John Deere se FX-planter boesem vertroue in

KAT Implemente > Blog > Industry > John Deere se FX-planter boesem vertroue in

Philip du Plessis, verkoopstreeksbestuurder van John Deere; Rikus en Frikkie van der Merwe, boere, en Wayne Spaumer, John Deere se produksiebestuurder, word verdwerg deur die John Deere 24-ry FX-planter.

John Deere se FX-planter het Suid-Afrikaanse boere gaande. ProAgri het besoek afgelê op twee plase wat ’n plantrewolusie ondergaan het as gevolg van die tegnologies gevorderde planter. Kyk net!

In Suid-Afrika moet landbouwerktuie immerdeur groter, beter en sterker word om by die uitdagings te hou vir ’n boer om winsgewend op die plaas te kan bly boer. Die Amerikaners is ook bewus hiervan en John Deere se produkte wys dat hulle die beginsel verstaan. Maar een van John Deere se grootste planters, die FX, is in Suid-Afrika ontwikkel vir Suid-Afrika se omstandighede.

John Deere se slim en ervare manne in Suid-Afrika het by verskeie saaiboere regoor die land gaan kers opsteek om te hoor hoe hulle droomplanter sal lyk en werk. Al hierdie drome is in een werklike planter vervat en die resultaat vandag is eenvoudig uitmuntend.

“As die bank môre kom om my twee FX-planters te vat, sal ons sommer die hele plaas vir hulle gee,” skerts Rikus van der Merwe wat buite Bloemfontein boer. Hy en sy seun, Frikkie, boer saam en is ook die eienaars van Kat Implemente.

Hy sê hulle wil NOOIT weer sonder John Deere FX-planters boer nie. Dit is gewigtige woorde vanaf ’n boer wat self ook sy eie werktuie vervaardig, maar John Deere se FX-planters het hulle hierdie plantseisoen van ’n ramp gered: Weens die laat reën kon hulle eers middel Januarie in die lande kom en moes noodgedwonge sonneblom plant, want die mielieplanttydperk was verby.

Rikus en Frikkie moes ook probeer tyd wen deur met hulle ouer planters te plant. Daar was aanvanklik probleme met die instel van sy 16-ry FX-planter, maar John Deere in Bloemfontein het die ekstra myl gestap en vir hulle ’n 24-ry FX asook ’n 9570 RX-trekker geleen sodat hulle binne hulle bitter kort plantvenster kon klaarmaak. Na die twaalf dae waarin hulle ’n plantrewolusie op hulle plaas beleef het, het pa en seun saam besluit dat die trekker en 24-ry FX, saam met die 16-ry nooit die plaas mag verlaat nie.

“Sonneblom kom moeilik op en daar was nie kans vir oorplant nie. Ons moes net die kans met die FX waag,” sê Rikus.

John Deere
Op rywydtes van 0,76 meter beweeg die kunsmistenk se agterste drawiel steeds loshande tussen die plantrye deur.

’n FX is ontwerp om teen 14 km per uur te plant en dit was net heeltemal ongehoord vir die twee ervare boere.

“In die begin wou ek die spoedmeter toeplak omdat ek te bang was om so vinnig te plant. Ek moes leer om net p die monitor te kyk. Vandag plant ek teen 18 tot 19 kilometer per uur en die stand is 98% akkuraat!,” sê Frikkie.

Rikus vertel: “Ek en Frikkie het kort-kort uit die trekkers geklim en agter die planters gaan grawe om seker te maak daar lê wel saad in die grond. Na twee dae was dit nie meer nodig nie. Ons kon die monitors vertrou. Die monitor boesem vertroue in en stel ons in staat om selfs in die nag te plant deur net op die monitor te kyk. Ons wonder nie meer nie. Ons het geen misrye gekry nie. Daar is niks wat hierdie planter gaan klop nie. Binne twaalf dae was alles foutloos gedoen.

”Voordat die plantjies opgekom het, het ek en Frikkie gereken om so 250 hektaar af te skryf, maar soos ons elke week tussen die lande gery het, het dit al minder geword. Vandag het ons slegs 30 hektaar, wat alles teen moeilike sandknoppe lê, afgeskryf.”

“Die plantjies het gou opgekom en was dadelik sterk genoeg om die waaifase te oorleef,” sê Frikkie.

“Dit moet die kunsmis wees wat mooi gekonsentreerd in ’n band naby genoeg an die saad geplaas is wat dit so vinnig en sterk laat opstaan het. Jy kon sien die plantjies het van die begin af krag gehad.”

Sedert opkoms is Rikus en Frikkie se lande so gelyk soos ’n tafel en daar is nie ’n golfeffek te bespeur nie. “Jy kan tussen die lande gaan ry en blok vir blok kyk. Waar die twee FX’e geplant het, is die plantjies wat deur die verste punte van die planter geplant is, presies net so hoog soos die wat onder die pens van die kunsmistenk geplant is,” sê Frikkie.

Dit is ook heeltemal verklaarbaar, want elke planterkarretjie se kunsmis word afsonderlik uitgemeet. ’n Awegaar trek elke toevoerpyp se kunsmis uit die tenk en dan word dit na elke karretjie geblaas. Hierdie plantseisoen kon die Van der Merwes drie keer meer hektare in die vergelykbare tyd plant. Die FX’e het hulle nou soveel moed gegee dat hulle volgende jaar 25 persent meer lande gaan plant.

JOhn Deere
Die resultate spreek vanself. Frikkie kan met trots vir Philip en Wayne van John Deere wys hoe lyk die sonneblomlande wat inderhaas in Januarie geplant is.

“Die FX’e het die prentjie van ons boerdery volgemaak,” sê Rikus. “Ons sal nie verder kan boer as die planters weggeneem word nie. Volgende jaar kan ons met geruste harte oorskakel na presisieboerdery, want die planters maak dit moontlik. ’n FX gee jou vertroue. As jy die stand van die FX sien, besef jy dat jy nie meer jou vorige planters vertrou nie. Jy is nie eers meer lus om met die 8-ry planters te werk nie,” sê hy.

John Deere het dit reggekry om die saad en kunsmisplasers saam aan die planter se parallelogramme te monteer sodat dit as ’n eenheid beweeg om te verseker dat saad en kunsmis deurlopend presies ewe ver van mekaar geplaas word. Om te verseker dat saad en kunsmis deurgaans op die verlangde diepte geplaas word, neem die afwaartse lugdrukfunksie (pneumatic downforce) oor. Die voordeel van lugdruk bo vere in die planterkarretjie is dat lugdruk skokke baie beter absorbeer en verhoed dat die planterkarretjie wip oor ongelyktes. Selfs al beweeg die planter skuins oor die lande waar die skeurploeg deur is, bly die saad en kunsmisplasing presies waar hulle dit wil hê.

Hierdie funksie druk as’t ware  die plantereenhede deurlopend op die grond vas teen ’n verlangde druk soos wat in die kajuit gestel is en dit bespaar ook baie brandstof. Die druk kan ook verstel word soos daar deur sandkolle of nat kolle beweeg word. Groter planters met groter spoed beteken groter lande en pa en seun moes aan die werk spring om hulle lande se grensdrade te verwyder.

“Ons moes baie van die drade op die plaas verwyder en sommige paaie opskeur om die lande groter te maak, omdat die planter so vinnig beweeg,” sê Frikkie.

“Nou bespaar ons baie tyd met die wenakkers wat minder geword het. Ons het ook ’n paar hektaar bygekry en daar strek nou ’n land van 1,2 km regoor die plaas.”

Frikkie en Rikus het die “RowCommand”-funksie in hulle planters bestel. Dit skakel outomaties dubbelplantery in nou rye uit. “Ek het eers gedink die 24-ry is te wyd vir die land onder ons 25 ha spilpunt, maar danksy RowCommand is dit nou nog makliker en vinniger om daar te plant as met die vorige 8-ry planters,” sê Rikus.

’n Verdere bonus is dat die reusagtige planters baie diesel bespaar. “Ons vorige planters het 4,5 tot 5,8 liter diesel per hektaar gebruik. Ons 16-ry FX loop teen 2,2 tot 2,8 liter per hektaar en die 24-ry loop teen 2,8 tot 3,2 liter per hektaar, sê Frikkie.

John Deere
Die kunsmistenk van binne: Elke plantereenheid se kunsmis word deur ’n aparte awegaar uit die kunsmisbak getrek en dan met ’n blaser in elkeen se eie pyp na die plantereenheid geblaas.

’n Paar ander voordele wat Frikkie en Rikus opgemerk het is:

  • Die FX bespaar ook geweldig baie saad en kunsmis en verhoog opbrengs, want nou kan ’n boer besluit hoe hy sy plasings op swakker of beter grond wil doen.
  • Jy kan al die planterkarretjies vanuit die trekker se kajuit sien omdat die kunsmistenk heel agter sit.
  • Rikus en Frikkie het die FX op minimumbewerkingslande getoets en na opkoms is hulle oortuig dat die FX ook ’n minimumbewerkingsplanter is. Die ryskoonmakers vee die stoppels netjies uit die rye waar die saad geplaas moet word.
  • Die planter betaal homself baie gou. Blaai om vir nog ’n FX-planterervaring.
John Deere
‘n John Deere FX-planter plant met gemak teen 14 kilometer per uur, maar Frikkie van der Merwe kon teen 18 tot 19 kilometer per uur sy saad teen 98% akkuraatheid in die grond sit.

Artikel deur vir proagri.co.za.

Sien die oorspronklike artikel hier.

Get social with us:
Facebook
Twitter
LinkedIn
Instagram
YouTube
Follow by Email
RSS

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *